Groot was die opwinding toe kaartjieverkope vir hierdie jaar se skoolkonsert amptelik kon begin.  Ouers het letterlik van die oggend 11h00 gewag om eerste die geleentheid te kon kry om kaartjies te koop.  Inge, Amelia en Saskia Reddering – ‘n drieling in Graad 2 – het die geleentheid aangegryp soos ware entrepreneurs  - deur ‘n snoepwinkeltjie by die ingang van die skoolsaal te beman. As jy immers een van 'n drieling is, moet jy soms maar self 'n plan maak om daardie spesiale speelding te koop want mamma kan nie altyd net alles gee nie.  Boonop is mamma 'n sakevrou en glo sy dat kinders van vroeg af moet leer om hulle eie sakgeld te verdien.  Die drie het R500 geleen by hulle ouers en het voorraad hiermee gaan aankoop.  Vir al die honder en dors ouers, oumas, oupas, ooms en tannies wat in die lang ry moes sit en wag vir kaartjies was daar toe meer as genoeg lekkernye en verversings om van te kies!  Na ‘n dag se harde werk kon hulle nie wag om by die huis te kom om hulle geld te tel nie.  Sowaar, na hulle hulle lening terug betaal het, was daar net mooi genoeg vir ‘n uitstappie Ratanga toe!